Bekering: Joh 1:36  en toe hy Jesus sien wandel, sê hy: Dáár is die Lam van God!

As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.
1 Johannes 1:9

 

TuisWerfkaartVoorwoordBekeringRedderGebedeBeginselsWat nou?Beroep!BegrippeBemoedigingDankbaarheidBybelboekeSkrifverwysingsKonsepteDrukweergawesKommentaarDankie!Kontak Om te doen

 

Opgedateer: 3 Februarie 2023

    

 

 

 

 

 

Geloofspad

Ek het gebid en Jesus in my hart geneem en my lewe aan die Here gegee. Wat nou?

As jy nou met geloof in volle oorgawe jou hart aan die Here gegee het, verwelkom die geloofsvriende jou nou in die Christelike familie.Engel skryf

Dalk het jy iets meer verwag van hierdie moment? Flitsende ligte, singende engele of dalk selfs 'n aardskudding. Liewe vriend, moenie bekommer en dink daar het niks gebeur nie. Die Bybel, wat die waaragtige Woord van God is, sê dat die hemelwesens juig as 'n sondaar hom/haar bekeer. Ons kan die belangrikheid daarvan volkome glo. Iets baie besonders en van ewigheidswaarde het beslis gebeur.

Tydens werklike berou oor sondes en bekering en oorgawe aan God, word die sondaar gereinig van alle ongeregtighede en sondes. Deur die geloof in Jesus Chistus as Redder, word ons 'n nuwe skepsel en die Heilige Gees is in ons hart. Die ou gevolge mag dalk nog daar wees. Geldelike probleme, hartseer, eensaamheid, siekte of een van 'n tienduisendtal ander dinge, want ons lewe nog in 'n gebroke wêreld, maar anders as voorheen, is God nou in beheer van jou hart en lewe. Hy is Almagtig en sal bemoeienis maak met al die bekommernisse en jou lei en help om rondom of deur die sake te kom. Sy wil sal Hy nou tot volvoering bring in jou lewe. As gelowige kan ons ook peil trek op die belofte in Romeine 8. nl. "En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na Sy voorneme geroep is." (Romeine 8:28)

Die Bybel, Gods Woord, deur die werking van die Heilige Gees, leer mens alles wat noodsaaklik is om te leef en die geloofspad in oorgawe te loop.

Soos ons, God se kinders, daagliks na Hom toe gaan in gebed en ook Sy Woord lees, sal Hy Homself al hoe meer aan ons openbaar. Daar leer ons Sy liefde, blydskap, vrede en oorwinning oor sondes ken. Die werking van Sy Heilige Gees in en deur ons lewens word al hoe meer 'n werklikheid. God is nie meer doer ver iewers, of die ou oupatjie wat belaglik is en niks kan doen en Sy skepping vergeet het nie. Sy Almagtigheid word al hoe meer vergestalt. Hy word 'n vaste realiteit, wat ons daaglikse bestaan skep en ons dade beïnvloed.

Enkele belangrike sake om op te volg na jou oorgawe aan die Here, is die volgende:

Lees die Bybel en bid gereeld

Leer meer van die Here deur elke dag Sy Woord te lees. Dit kan vir so kort as slegs 'n kwartier op 'n slag wees, maar getroue Bybelstudie sal jou nie net in staat stel om andere te help nie, maar sal jou help om met vaste tred en met oortuiging op die geloofspad van Christenskap te bly. 'n Daaglikse getroue besoek aan die Here in jou gebedskamer versterk jou persoonlike verhouding met die Here. Daar by Sy voete leer mens wat Sy wil is, wat Hy vir ons voorberei en wat ons moet doen. Vra God om jou geloof te versterk en jou insig te gee in Sy Woord. Die Heilige Gees sal jou kom leer en vertroos en lei.

Talle geloofshelde soos Daniël en Job het getrou gebid en God het groot wonders in hul lewens gedoen. Die krag wat ontketen word as ons bid, moet nie onderskat word nie. Baie het al getuig van groot wonders wat plaasgevind het na innige en volgehoue gebed tot God.

Vertel ander mense

Vertel andere van jou bekering en nuwe geloofspad. Nie alleen vra God dit in Sy Woord dat ons moet uitgaan en praat oor Sy genade en geskenk nie, maar deur dissipelskap te beoefen groei die geloof, insig en dankbaarheid oor hierdie wonderlike gebeurtenis en geskenk wat ons ontvang het.

Word gedoop

Die Bybel sê: "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het." (Matthéüs 28:19)

Jesus het self ook gegaan om gedoop te word. Daardeur wou Hy aandui dat Hy in volle gehoorsaamheid aan die Vader optree.

As jy nog nie gedoop is nie, gaan besoek 'n Christen-leraar by jou plaaslike gemeente of Chisten-vriende en vra wat jy moet doen om gedoop te word.

Sluit aan by 'n Christelike gemeente

Word deel van 'n Christen-kerkgemeente. 'n Ware Christelike kerkgemeente waar God en Sy gebod gedien word met eer, vorm deel van die uitdra van Gods Woord. Daar kan jy 'n belangrike bydrae maak en self ook nog baie leer, ondersteun word en die liefde van medegelowiges ervaar.

Chistelike geselskap

Die waarde van gelowige vriende wat al 'n lang ruk die geloofspad loop, is van groot belang. Ander gelowiges kan 'n wonderlike ondersteuning wees in tye van nood as gebedsgenote en kan mens help om die Bybel beter te leer ken, omdat hulle Bybelstudie-ervaring al baie onderwerpe beslaan het. 'n Persoon wat tot bekering gekom het voel nie meer tuis in geselskap waar die Here se Naam ydelik gebruik word of waar geskinder, vuiltaal en gevloek en geswets word nie.

2 Timótheüs 3 verse 1 tot 5 verduidelik dit soos volg: "Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat 'n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af."

Moet dus nie die Heilige Gees bedroef deur deel te wees van geselskapsgroepe waar die Here mishaag word nie. Dit eer Hom nie en sal net tot jou nadeel strek.

Gesonde leesstof

Benewens die daaglikse lees van die Bybel, is ander gesonde leestof ook 'n wonderlike voorreg. Probeer boeke lees oor geloofshelde en -heldinne, die hedendaagses en dié van ouds, dus die verhale van mense soos Josef, Rut, David, Ester en andere in die Bybel. Vergelyk dit met die inhoud wat in die Bybel gevind word. Deur die dade en  geloofservarings van ander gelowiges te sien, te hoor of te wete te kom, kan tot groot groei, kennis, insig en wysheid lei. Mens word soms daadwerlik geïnspireer as mens die geloof, getrouheid, selfdissipline en opofferings van ander gelowiges sien. Die wonderlike mededelings van sendelinge, is bv. heelwat makliker bekombaar deesdae. Dit is ook nou baie anders as sowat 25 na 30 jaar gelede. Interessante bronne wat bydra om die Bybel se inhoud of teks beter te belig en mens te help verstaan, soos dagstukkies, preke, Bybelvertalings, kaarte en besprekings is veel makliker bekombaar. Die Internet en boeke is dus heerlike hulpmiddels om ons insig te gee in onderwerpe waaroor ons nog meer wil weet. Sulke items of kommunikasie-media kan van groot waarde wees.

Besoek die "Om te doen-lysie" met wenke van die Top 20 dinge wat vir Christene belangrik is.

Besoek gerus ook Bybelteks vir 'n kort lysie van boeke en internetskakels.

 

 

 

Tuis
Werfkaart
Voorwoord
Bekering
Redder
Gebede
Beginsels
Wat nou?
Beroep!
Begrippe
Bemoediging
Dankbaarheid
Bybelboeke
Skrifverwysings
Konsepte
Drukweergawes
Kommentaar
Dankie!
Kontak

Op
Om te doen

'n Christen ...

Kaleidoskoop


ARK Webontwerp sedert 1998

ARK Web Design since 1998


Swallow Software

ARK Web Design © 2007 - 2023
ARK Webontwerp © 2007 - 2023

Bybel vir aflaai: Engel in pers en blou wat bidBybelteks
 Bible Text

arkpark.net