Bekering: Joh 1:36  en toe hy Jesus sien wandel, sê hy: Dáár is die Lam van God!

As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.
1 Johannes 1:9

 

TuisGeestelike GroeiGeloofHeiligmakingMiddelaarReddingSondeVerdwaalWedergeboorte

 

Opgedateer: 3 Februarie 2023

    

 

 

 

 

Sonde

Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, 'n dienskneg van die sonde is.
Johannes 8:34



Meer oor Sonde

Belangrike Bybelverse om vooraf te lees

Romeine 6:11-15 (Wees nie slawe van die sonde nie)
Eségiël 37:1-28 (Die Gees maak lewend wat dood was)
Jakobus 1:15 (Sonde bring die dood)
Jesaja 55:6-11 (Soek die Here)

Die tema van sonde is deesdae baie polities onkorrek en sosiaal ongewild om aan te roer. Een van die ernstige redes waarom ons sulke gruweldade rondom ons beleef, is omdat baie mense nie meer aan God glo nie. Hulle het ook geen respek vir Sy wet en Woord nie. Wat dit nog erger maak is dat baie van ons is te bang of te skaam is om mekaar in liefde, maar ernstig aan te spreek oor wandade. Die riglyne van die Christelike geloof word al hoe meer uitgeskop, vertrap, bespot en op neer gekyk. "Wie is die Here nou eintlik en wat het ons met Sy Woord te doene?" vra die onheiliges met 'n groot glimlag van spotterny en smaad op hul gesigte. Die Bybel het 'n antwoord vir dit.

Jesus sê self: "As Ek nie gekom en met hulle gespreek het nie, sou hulle geen sonde hê nie; maar nou het hulle geen verskoning vir hul sonde nie."(Johannes 15:22)

Jesus het wel gekom en vir Sy kinders gesterf. Almal wat die rug op Hom draai sal geen verskoning hê nie, want ons het nou al vir eeue die Bybel en selfs die Bybelvertalings in baie tale.

En as ons, as Christen, stilbly tydens die geboelie van die wêreld en die bose se handlangers, terwyl ons eerder moet praat oor sondes en ongeregtighede, sê ons met ons aksies, ons optrede, dat die Woord van God en God self eintlik maar net van minder belang is, as die sonde wat heers.

Die Bybel dring ook daarop aan dat ons mekaar moet aanspreek as die sonde sy hardnekkige kop uitsteek.

Maar vermaan mekaar elke dag so lankas dit
vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding
 van die sonde verhard word nie.
Hebreërs 3:13

Wat is sonde?
Boekdele kan en is seker al baie oor die onderwerp geskryf.

Sonde is: Deur te doen wat verkeerd is in die oë van die Here. Wanneer ons die Here, Sy wet en Woord verwerp, sondig ons.
1 Johannes 3:4 dui aan: Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid. Die sonde se uiteinde is die dood en die verderf.

Daar is nie één mens wat nie gesondig het nie. Ons is almal sondaars. Die Here Jesus het ons gemaak en ons is Sy skepsels.
Hy het die eerste mense, Adam en Eva goed gemaak, maar deur hardkoppige eiesinnigheid en misleiding het hierdie eerste mensepaar, gesondig en nie na God se waarskuwing geluister nie. Dit was die doodmakende sondeval en van daardie tyd af, is ons almal in sonde ontvang en gebore (Psalm 51:5) en Romeine 5:12 sê verder: Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.

Ons mensekinders het dus almal die sondige natuur geërf.
1 Johannes 1:8 sê ook duidelik: As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

Daarmee saam wys 1 Johannes 3:8 uit: Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af.

Genadiglik eindig dieselfde vers met hierdie baie besondere belofte: Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.

God het dus self 'n oplossing voorsien, 'n weg gebaan om ons van die sondelas totaal en al vry te maak, skoon te was en ons volkome te red.

En julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem,
en geen sonde is in Hom nie.
1 Johannes 3:5

en

Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
2 Korinthiërs 5:21

En waarom hierdie vreeslike kruisdood van ons Here Jesus Christus? Want God verag, verafsku en haat die sonde. Die sonde het Hy nooit vir Sy kinders gegee nie en dit kom nie van Hom af nie.

God haat ongeregtighede, oortredings en sondes: Talle plekke in die Bybel word dit aangedui dat die Here sonde haat. In Spreuke is daar baie sulke dinge wat aangespreek word. Lees byvoorbeeld gerus maar Spreuke 6, as geheel om baie sulke voorbeelde te sien. Daar word goed soos trotse oë; 'n leuenagtige tong; hande wat onskuldige bloed vergiet; 'n hart wat onheilsplanne beraam; voete wat haastig na die kwaad toe loop; valse getuie; leuens uitstrooi; tweedrag saai; ongehoorsaamheid aan ouers en so meer genoem.

God haat nie alleen die sonde nie, maar duidelik ook die sondaar. Sien byvoorbeeld Psalm 5:4-6.

Want U is nie 'n God wat behae het in goddeloosheid nie;
die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie.
Die onsinniges sal voor U Oë nie standhou nie;
U haat al die werkers van ongeregtigheid.
U sal die leuensprekers laat omkom;
van die man van bloed en bedrog het die HERE 'n afsku.
Psalm5:4-6

LW daar is geen sogenaamde "geheime sondes" nie. Die Here weet alles van ons, ken al die fasette in ons wese, insluitende ons diepste gedagtes en die bedoelings van ons hart. God is ALWETEND en ALOMTEENWOORDIG!

Op elke plek is die oë van die HERE,
en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies
Spreuke 15:3

Onthou maar altyd, dat jy NIE kan sondig en ongemerk of ongedeerd daarvan wegkom nie. Sonde besmet, besoedel en verniel en lei na liggaamlike en geestelike vernietiging. Volgehoue sonde lei na geestelike dood. Die oervyand van God, satan, begeer jou dood en daarom is hy gedurig besig om jou te bepraat en om te probeer praat om sonde te doen, wat tot jou fisiese en/of geestelike dood sal lei. Hy wil jou siel oorrompel, jou oorwin en jou vernietig.

Wanneer ons sondig moet ons weet en ernstig daarmee rekening hou dat daar 'n hiernamaals is. 2 Petrus 3:7 sê die Here gaan oordeel en straf en dié wat sondig, sal uiteindelik die wrange vrugte van die slegte saad wat gesaai is in die geestelike lewe, ook met trane oes.

Maar daar is ook lewemakende goeie nuus. Romeine 4:7-8 dui dit so aan:

Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe
en wie se sondes bedek is.
Welgeluksalig is die man
aan wie die Here die sonde nie toereken nie.
Romeine 4:7-8

Hoe kan so iets wees, hoe kan so iets gebeur? Hoe is so 'n vryspraak en redding tog moontlik? Sonde bring die dood soos Romeine 6:23 toon. Juis daarom het ons ons Saligmaker, Jesus Christus, nodig! Jesus bewerkstellig vir ons die geskenk van regverdigmaking. (Romeine 3:23-25). Voorwaar, dis soos Johannes die Doper dit aangedui het.

Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God
 wat die sonde van die wêreld wegneem
!
Johannes 1:29

Daar is maar net een manier om vergifnis te kry en dit is om Jesus persoonlik te ontmoet en jou hele wese vir Hom beskikbaar en diensbaar te maak in opregtheid en met vaste geloof.

Want toe julle diensknegte was van die sonde, was julle vry van die geregtigheid. Watter vrug dan het julle toe gehad van die dinge waaroor julle jul nou skaam? Want die uiteinde daarvan is die dood. Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe. Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.
Romeine 6:20-23

"Unbroken patterns of sin are characteristic of the unregenerate.
No matter what a person claims about being a Christian,
 if he or she continues in sin, it is only a claim and not a reality. When you became a Christian, the pattern of sin was broken and a new pattern came into existence. Godly desires took over. Does that mean there's no sin in your life? No, because your unredeemed flesh is still there. But the more you pursue those religious affections,
the less you will sin. Sin as a life pattern is incompatible with salvation. That's because to experience salvation is to be saved from something, and that something is sin.
If a person could continue in sin after being saved from sin,
that would mean salvation is ineffective."
Aanhaling van John MacArthur,
"Saved Without a Doubt," p. 92.

Hebreërs 1:1-2 Moedig ons aan om die sonde die rug te draai en sommer hier en nou na Jesus se beskermende arms te vlug en Sy genade te aanvaar. Kyk na al die gelowiges in die geskiedenis en selfs die Christen-martelare se getuienis. Maak vandag nog jou sake reg met God en neem Jesus Christus aan as jou Herder, Koning en Heer.

Daarom dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
Hebreërs 1:1-2

en

Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus,
Sy Seun, reinig ons van alle sonde.
1 Johanne 1:7

 

 

Tuis
Geestelike Groei
Geloof
Heiligmaking
Middelaar
Redding
Sonde
Verdwaal
Wedergeboorte

Op

 

TuisGeestelike GroeiGeloofHeiligmakingMiddelaarReddingSondeVerdwaalWedergeboorte

 

'n Christen ...

Kaleidoskoop


ARK Webontwerp sedert 1998

ARK Web Design since 1998


Swallow Software

ARK Web Design © 2007 - 2023
ARK Webontwerp © 2007 - 2023

Bybel vir aflaai: Engel in pers en blou wat bidBybelteks
 Bible Text

arkpark.net