Bekering: Joh 1:36  en toe hy Jesus sien wandel, sê hy: Dáár is die Lam van God!

As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.
1 Johannes 1:9

 

TuisOu TestamentNuwe Testament

 

Opgedateer: 3 Februarie 2023

    

 

 

 

 

 

Ou Testament Skrifverwysings

'n Lys van Skrifverwysings uit die Ou Testament
wat in die webwerf gebruik is, word gegee.
Ou Testamentverse is onderaan die lys.
(1933 vertaling)

   
Génesis 3:6
Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy 'n lus was vir die oë, ja, 'n boom wat 'n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.
   
Levítikus 19:17
Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie. Jy moet jou naaste vrymoedig berispe, sodat jy om sy ontwil geen sonde op jou laai nie.
   
Númeri 23:19
God is geen man dat Hy sou lieg nie; of 'n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?
   

Josua 1:7-8
Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, My kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links af nie, sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan. Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.

   

Josua 24:15
Maar as dit verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.

   
2 Kronieke 32:24-26
In dié dae het Jehiskía dodelik siek geword, maar hy het tot die HERE gebid, en Hy het met hom gespreek en hom 'n wonderteken gegee. Maar Jehiskía het die weldaad wat aan hom bewys is, nie vergeld nie; want sy hart het hoogmoedig geword. Daarom was daar 'n toorn oor hom en oor Juda en Jerusalem. Maar Jehiskía het hom verootmoedig in die hoogmoedigheid van sy hart, hy en die inwoners van Jerusalem, sodat die toorn van die HERE nie oor hulle gekom het in die dae van Jehiskía nie.
   
Esra 10:1
En terwyl Esra bid en hy wenende neerval en belydenis doen voor die huis van God, kom daar uit Israel 'n baie groot vergadering van manne en vroue en kinders by hom bymekaar; want die volk het geween met 'n groot geween.
   
Nehemía 8:10
Verder het hy vir hulle gesê: Gaan, eet lekker spys en drink soet dranke en stuur porsies aan hulle vir wie niks berei is nie; want hierdie dag is heilig aan onse Here. Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE—dit is julle beskutting.
   
Job 19:25-27
Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan. En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou; Hom wat ék sal aanskou my ten goede, en my oë—en geen vreemde nie—sal sien, My niere versmag van verlange in my binneste.
   
Psalm 5:4-6
Want U is nie 'n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie. Die onsinniges sal voor U Oë nie standhou nie; U haat al die werkers van ongeregtigheid. U sal die leuensprekers laat omkom; van die man van bloed en bedrog het die HERE 'n afsku.
   
Psalm 6
o HERE, straf my nie in U toorn nie, en kasty my nie in U grimmigheid nie. Wees my genadig, HERE, want ek is verswak; maak my gesond, HERE, want my gebeente is verskrik. Ja, my siel is baie verskrik; en U, HERE, tot hoe lank? Keer terug, HERE, red my siel; verlos my om U goedertierenheid ontwil. Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk? Ek is moeg van my gesug; elke nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met my trane. My oog het dof geword van verdriet; dit het swak geword vanweë al my teëstanders. Gaan weg van my, al julle werkers van ongeregtigheid, want die HERE het die stem van my geween gehoor.
Die HERE het my smeking gehoor; die HERE neem my gebed aan. Al my vyande sal beskaamd staan en baie verskrik word; hulle sal in 'n oomblik beskaamd omdraai.
   
Psalm 10:2-11
In sy trotsheid vervolg die goddelose die ellendige. Laat hulle gegryp word in die listige planne wat hulle uitgedink het! Want die goddelose juig oor die begeerte van sy siel; en hy seën hom wat onregverdige wins maak, hy verag die HERE. Die goddelose, met sy neus in die hoogte, sê: Hy ondersoek nie: daar is geen God nie—dit is al sy gedagtes! Sy weë is altyd voorspoedig; hoog daarbo is U gerigte, weg van hom af; al sy teëstanders—hy blaas op hulle. Hy sê in sy hart: Ek sal nie wankel nie; van geslag tot geslag is ek die een wat nie in die ongeluk sal wees nie. Sy mond is vol van vloek en van bedrog en verdrukking; onder sy tong is moeite en onreg. Hy sit in die hinderlae by die dorpe; in skuilplekke maak hy die onskuldige dood; sy oë loer op die ongelukkige. Hy loer in die skuilhoek soos 'n leeu in sy lêplek; hy loer om die ellendige te vang; hy vang die ellendige deur sy net toe te trek; en verbryseld sink dié terneer, en die ongelukkiges val in sy mag. Hy sê in sy hart: God vergeet dit; Hy verberg Sy aangesig; vir ewig sien Hy dit nie.
   
Psalm 14:1
Net 'n gek sê in sy hart dat daar nie 'n God is nie.
   
Psalm 21:4
Die lewe het hy van U begeer; U het hom dit gegee: lengte van dae, vir ewig en altyd.
   
Psalm 23
Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om Sy Naam ontwil. Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: U stok en U staf dié vertroos my. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.
   
Psalm 27
Die HERE is my lig en my heil: vir wie sou ek vrees? Die HERE is die toevlug van my lewe: vir wie sou ek vervaard wees? As kwaaddoeners teen my nader kom om my vlees te eet—my teëstanders en my vyande, ja, myne—struikel hulle self en val. Al word 'n laer teen my opgeslaan, my hart sal nie vrees nie; al staan 'n oorlog teen my op, nogtans vertrou ek. Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in Sy tempel. Want Hy steek my weg in Sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van Sy tent; Hy verhef my op 'n rots. En nou sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my, en ek wil in Sy tent offerandes offer saam met trompetgeklank; ek wil sing, ja, psalmsing tot eer van die HERE. Hoor, o HERE, ek roep luid; en wees my genadig en antwoord my. Van U sê my hart: Soek My aangesig! Ek soek U aangesig, o HERE! Verberg U aangesig nie vir my nie, wys U kneg nie af in toorn nie: U was my hulp! Verstoot en verlaat my nie, o God van my heil! Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die HERE sal my aanneem. HERE, leer my U weg en lei my op 'n gelyk pad, vanweë my vyande. Gee my nie oor aan die begeerte van my teëstanders nie, want valse getuies het teen my opgestaan, en hy wat geweld uitblaas. o, As ek nie geglo het dat ek die goedheid van die HERE sal sien in die land van die lewendes nie…. Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!
   
Psalm 31:11
Vanweë al my teëstanders het ek 'n voorwerp van smaad geword, ja, grootliks vir my bure, en 'n voorwerp van skrik vir my bekendes; die wat my op straat sien, vlug weg van my af.
   
Psalm 34:17-18
Hulle roep, en die HERE hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede. Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.
   
Psalm 37:25-26
Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie. Die hele dag ontferm hy hom en leen uit, en sy nageslag is 'n seën.
   
Psalm 40:4–5
En Hy het 'n nuwe lied in my mond gegee, 'n lofsang tot eer van onse God. Baie sal dit sien en vrees en op die HERE vertrou. Welgeluksalig is die man wat sy vertroue in die HERE stel en hom nie wend tot hoogmoediges en leuendienaars nie. Groot dinge het U gedoen, HERE my God—U wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie. Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel.
   
Psalm 43:5
Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof—die verlossing van my aangesig en my God!
   
Psalm 46:1-3
'n Lied. God is vir ons 'n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see. Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid! Sela.
   
Psalm 51
Wees my genadig, o God, na U goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van U barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in U oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou. Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. Kyk, U het 'n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend. Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu. Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het. Verberg U aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees. Verwerp my nie van U aangesig nie en neem U Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van U heil, en ondersteun my deur 'n gewillige gees. Ek wil die oortreders U weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer. Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong U geregtigheid uitjubel. Here, open my lippe, dat my mond U lof kan verkondig. Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! Doen goed aan Sion na U welbehae; bou die mure van Jerusalem op. Dan sal U 'n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op U altaar.
   
Psalm 91:3-7
Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes. Hy sal jou dek met Sy vlerke, en onder Sy vleuels sal jy skuil; Sy trou is 'n skild en pantser. Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie! Al val daar duisend aan jou sy en tien duisend aan jou regterhand—na jou sal dit nie aankom nie.
   
Psalm 100:3
Erken dat die HERE God is: Hy het ons gemaak, en ons is Syne, Sy volk en die skape van Sy weide.
   
Psalm 103
1 'n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, Sy heilige Naam! 2 Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van Sy weldade nie! 3 Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees, 4 wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede, 5 wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van 'n arend. Die HERE doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk word. Hy het aan Moses Sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel Sy dade. 8 Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. 9 Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. 10 Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. 11 Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is Sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. 12 So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. 13 Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. 14 Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is. 15 Die mens—soos die gras is sy dae; soos 'n blom van die veld, so bloei hy. 16 As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie. 17 Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en Sy geregtigheid vir kindskinders, 18 vir die wat Sy verbond hou en aan Sy bevele dink om dié te doen. 19 Die HERE het Sy troon in die hemel gevestig, en Sy koninkryk heers oor alles. 20 Loof die HERE, Sy engele, kragtige helde wat Sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van Sy woord!
21 Loof die HERE, al Sy leërskare, Sy dienaars wat Sy welbehae doen!
22 Loof die HERE, al Sy werke, op al die plekke van Sy heerskappy! Loof die HERE, o my siel!
   
Psalm 103:3
Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees,
   
Psalm 103:12-14
So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.
   
Psalm 107:23-31
  Die wat na die see toe afdaal in skepe, wat handel drywe op die groot waters— húlle het die werke van die HERE gesien en Sy wonders in die diepte. Want Hy het gespreek en 'n stormwind laat opsteek wat die golwe daarvan opgesweep het. Hulle het opgerys na die hemel, neergedaal na die dieptes—hulle siel het vergaan van wee. Hulle het getuimel en gewaggel soos 'n dronk man, en al hulle wysheid is verwar. Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid, en uit hul angste het Hy hulle uitgelei. Hy het die storm 'n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword. Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het, en Hy het hulle gelei na die hawe van hul begeerte. Laat hulle die HERE loof om Sy goedertierenheid en om Sy wonderdade aan die mensekinders
   
Psalm 116:13
Ek sal die beker van verlossinge opneem en die Naam van die HERE aanroep.
   
Psalm 116:15
Kosbaar is in die oë van die HERE die dood van Sy gunsgenote.
   
Psalm 119:10-11
Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van U gebooie nie. Ek het U woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.
   
Psalm 119:75
Ek weet, HERE, dat U oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het.

Kyk ook na die vertaling van Psalms 119:75 hieronder.

Geneefse Bybel (1599) 16de Eeuse Engels
I knowe, O Lord, that thy iudgements are right, and that thou hast afflicted me iustly.

Geneefse Bybel (1599) Moderne Engels
75 I know, O Lord, that thy judgments are right, and that thou hast afflicted me justly.

   
Psalm 121
'n Bedevaartslied. Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het. Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie. Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie. Die HERE is jou Bewaarder; die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand. Die son sal jou bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie. Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar. Die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid.
   
Psalm 145:14-16
Die HERE ondersteun almal wat val, en Hy rig almal op wat neergeboë is. Die oë van almal wag op U, en U gee hulle hul spys op die regte tyd. U maak U hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.
   
Psalm 147:3
Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde.
   
Psalm 147:11
Die HERE het 'n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op Sy goedertierenheid hoop.
   
Psalm 150
1 Halleluja! Loof God in Sy heiligdom, loof Hom in Sy sterk uitspansel!
2 Loof Hom oor Sy magtige dade, loof Hom na die volheid van Sy grootheid!
3 Loof Hom met basuingeklank, loof Hom met harp en siter;
4 loof Hom met tamboeryn en koordans, loof Hom met snarespel en fluit;
5 loof Hom met helder simbale, loof Hom met klinkende simbale!
6 Laat alles wat asem het, die HERE loof! Halleluja!
   
Spreuke 8:13
Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n huigelagtige mond haat ek.
   
Spreuke 9:11
Want deur my word jou dae meer en word jare van lewe vir jou toegevoeg.
   
Spreuke 10:12
Haat verwek twiste, maar liefde bedek al die oortredinge.
   
Spreuke 10:27
Die vrees van die HERE vermeerder die dae, maar die jare van die goddelose word verkort.
   
Spreuke 12:4
'n Deugsame vrou is die kroon van haar man, maar een wat skande maak, is soos 'n verrotting in sy gebeente.
   
Spreuke 12:22
Valse lippe is vir die HERE 'n gruwel, maar Hy het 'n welbehae in die wat getrou handel.
   
Spreuke 15:3
Op elke plek is die oë van die HERE, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies
   
Spreuke 15:17
  Liewer 'n porsie groente waar liefde by is, as 'n vetgevoerde bees en haat daarby.
   
Spreuke 15:29
  Die HERE is ver van die goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy.
   
Spreuke 16:25
Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is die weë van die dood.
   
Spreuke 16:32
Die lankmoedige is beter as 'n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat 'n stad inneem.
   
Spreuke 20:1
Die wyn is 'n spotter, en sterk drank 'n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie.
   
Spreuke 20:24
Die voetstappe van 'n man hang van die HERE af: hoe sou 'n mens dan sy weg verstaan?
   
Spreuke 22:24-25
Verkeer nie met 'n driftige man nie, en met 'n opvlieënde man moet jy nie omgaan nie, sodat jy nie gewend raak aan sy paaie en 'n strik vir jouself span nie.
   
Spreuke 23:17
Laat jou hart die sondaars nie beny nie, maar wees die hele dag in die vrees van die HERE.
   
Spreuke 24:16-20
Want sewe maal val die regverdige en staan weer op, maar die goddelose struikel in die ongeluk. As jou vyand val, verheug jou nie; en as hy struikel, laat jou hart nie juig nie, dat die HERE dit nie sien en dit miskien verkeerd is in Sy oë en Hy Sy toorn van hom afwend nie. Vererg jou nie oor die kwaaddoeners nie, wees nie afgunstig op die goddelose nie. Want die kwaaddoener het geen toekoms nie, die lamp van die goddelose gaan dood.
   
Spreuke 27:1-2
Beroem jou nie op die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal bring nie. Laat 'n ander jou prys en nie jou eie mond nie; 'n vreemde, en nie jou eie lippe nie.
   
 Spreuke 28:13
Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.
   
 Prediker 11:10
En weer verdriet uit jou hart, en hou die kwale weg van jou liggaam, want die jeug en die jonkheid is nietigheid.
   
Jesaja 1:18
Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.
   
Jesaja 12:4
En julle sal in dié dag sê: Dank die HERE, roep Sy Naam aan, maak Sy dade onder die volke bekend, verkondig dat Sy Naam hoog is!
   
Jesaja 25:8
Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van Sy volk van die hele aarde af wegneem; want die HERE het dit gespreek.
   
Jesaja 26:3
U sal 'n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U.
   
Jesaja 44:22–23
Ek delg jou oortredinge uit soos 'n newel en jou sondes soos 'n wolk; keer terug na My, want Ek het jou verlos. Jubel, o hemele, want die HERE het dit gedoen. Juig, dieptes van die aarde! Breek uit in gejubel, o berge, bosse en al die bome daarin! Want die HERE het Jakob verlos, en Hy sal Homself verheerlik aan Israel.
   
Jesaja 48:10
Kyk, Ek het jou gelouter, maar nie soos silwer nie; Ek het jou beproef in die smeltkroes van ellende.
   
Jesaja 48:22
22 Geen vrede, sê die HERE, vir die goddelose nie!
   
Jesaja 51:12
Ek is dit wat julle troos! Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras? —
   
Jesaja 52:10
10 Die HERE het Sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies, en al die eindes van die aarde sal sien die heil van onse God.
   
Jesaja 53:4-7
Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.
Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.
Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het Sy mond nie oopgemaak nie; soos 'n lam wat na die slagplek gelei word en soos 'n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het Sy mond nie oopgemaak nie.
   
Jesaja 55:6–11
Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik. Want My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie My weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is My weë hoër as julle weë en My gedagtes as julle gedagtes. Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter; so sal My woord wees wat uit My mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur
   
Jesaja 64:6-8
En ons het almal geword soos 'n onreine, en al ons geregtighede soos 'n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind. En daar was niemand wat U Naam aangeroep het, wat hom beywer het om U aan te kleef nie; want U het U aangesig vir ons verberg en laat ons wegsmelt deur ons ongeregtighede. Maar nou, HERE, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van U hand.
   
Jeremia 3:22
Keer terug, o afkerige kinders; Ek sal julle afkerighede genees. Hier is ons, ons kom na U toe, want U is die HERE onse God.
   
Jeremia 31:3
Die HERE het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met 'n ewige liefde;
daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.
   
Jeremia 50:4–5
In dié dae en in dié tyd, spreek die HERE, sal die kinders van Israel kom, hulle met die kinders van Juda saam; onder geween sal hulle voorttrek en die HERE hulle God soek. Hulle sal na Sion vra; op die pad hierheen sal hulle aangesig gerig wees; hulle sal kom en by die HERE aansluit in 'n ewige verbond wat nie vergeet sal word nie.
   
Eségiël 18:31-32
Werp al julle oortredinge waardeur julle oortree het, van julle af weg en maak vir julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees; want waarom wil julle sterwe, o huis van Israel? Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE. Bekeer julle dan en lewe.
   
Eségiël 36:26
En Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee.
   
Eségiël 37:1-28
Die hand van die HERE was op my, en Hy het my uitgebring deur die Gees van die HERE en my neergesit in die laagte; en dit was vol bene. En Hy het my by hulle laat verbygaan na alle kante toe; en kyk, daar het 'n groot menigte oor die laagte gelê, en kyk, hulle was baie dor. Toe sê Hy vir my: Mensekind, kan hierdie bene lewendig word? En ek antwoord: Here HERE, U weet dit. Daarop sê Hy vir my: Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van die HERE! So spreek die Here HERE tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word. En Ek sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en 'n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word; en julle sal weet dat Ek die HERE is. Toe het ek geprofeteer soos my beveel was. En sodra ek geprofeteer het, was daar 'n geruis, en kyk—'n beroering! En die bene het nader gekom, elke been na sy been. Toe kyk ek en—daar was senings op hulle, en daar het vlees op gekom, en 'n vel is bo-oor hulle getrek, maar daar was geen gees in hulle nie. Daarop sê Hy vir my: Profeteer tot die gees, profeteer, mensekind, en sê aan die gees: So spreek die Here HERE: Kom aan uit die vier windstreke, o gees, en blaas in hierdie dooies, dat hulle lewendig kan word. En ek het geprofeteer soos Hy my beveel het. Toe het die gees in hulle gekom, en hulle het lewendig geword en op hulle voete gaan staan—'n ontsaglike groot leër! Toe sê Hy vir my: Mensekind, hierdie bene is die hele huis van Israel. Kyk, hulle sê: Ons bene is verdor, en ons verwagting is verlore; dit is klaar met ons! Daarom, profeteer en sê aan hulle: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek sal julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk! En Ek sal julle bring in die land van Israel. En julle sal weet dat Ek die HERE is as Ek julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk! En Ek sal my Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word; en Ek sal julle vestig in jul land; en julle sal weet dat Ek, die HERE, dit gespreek en gedoen het, spreek die HERE. Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: En jy, mensekind, neem vir jou 'n stuk hout, en skrywe daarop: Vir Juda en vir die kinders van Israel, sy bondgenote; en neem 'n ander stuk hout en skrywe daarop: Vir Josef (die hout van Efraim) en die hele huis van Israel, sy bondgenote. Voeg hulle dan vir jou bymekaar, die een by die ander, om een stuk hout te wees, en laat hulle een word in jou hand. En as die kinders van jou volk met jou spreek en sê: Sal u ons nie te kenne gee wat u met hierdie dinge bedoel nie? sê dan vir hulle: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek sal die stuk hout van Josef neem, wat in die hand van Efraim is, en die stamme van Israel, sy bondgenote, en Ek sal hulle by hom voeg, by die stuk van Juda, en hulle een stuk hout maak; en hulle sal een word in my hand. So moet dan die houte waar jy op skrywe, in jou hand wees voor hulle oë; en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land. En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie. En hulle sal hul nie meer verontreinig met hulle drekgode en hulle verfoeisels en met al hulle oortredinge nie; en Ek sal hulle verlos uit al hulle woonplekke waarin hulle gesondig het, en sal hulle reinig. So sal hulle dan vir my 'n volk wees, en Ek vir hulle 'n God wees. En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel.
En hulle sal woon in die land wat Ek aan my kneg Jakob gegee het, waar julle vaders in gewoon het; ja, húlle sal daarin woon, hulle kinders en hulle kindskinders tot in ewigheid; en my kneg Dawid sal hulle vors wees vir ewig. En Ek sal 'n verbond van vrede met hulle sluit, dit sal 'n ewige verbond met hulle wees; en Ek sal hulle daar bring en hulle vermenigvuldig; en Ek sal my heiligdom in hulle midde vestig vir ewig. En My tabernakel sal oor hulle wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees en hulle vir My 'n volk wees.
En die nasies sal weet dat Ek die HERE is wat Israel heilig as my heiligdom vir ewig in hulle midde sal wees.
   
Daniël 9:1–19
1 In die eerste jaar van Daríus, die seun van Ahasvéros, uit die geslag van die Meders, wat koning gemaak was oor die koninkryk van die Chaldeërs, 2 in die eerste jaar van sy regering het ek, Daniël, in die boeke gemerk dat die getal jare waaroor die woord van die HERE tot die profeet Jeremia gekom het met betrekking tot die puinhope van Jerusalem, sewentig volle jare was. 3 En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy. 4 En ek het tot die HERE my God gebid en belydenis gedoen en gesê: Ag, Here, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en Sy gebooie onderhou, 5 ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van U gebooie en verordeninge afgewyk. 6 En ons het nie geluister na U knegte, die profete, wat in U Naam gespreek het tot ons konings, ons owerstes en ons vaders en tot die hele volk van die land nie. 7 Aan U, Here, kom die geregtigheid toe, maar aan ons beskaming van die aangesig soos dit vandag is, aan die manne van Juda en aan die inwoners van Jerusalem en aan die hele Israel, die wat naby en die wat ver is in al die lande waarheen U hulle verdryf het, oor hulle ontrou wat hulle teen U begaan het. 8 Here, aan ons kom toe beskaming van die aangesig, aan ons konings, aan ons owerstes en aan ons vaders, omdat ons teen U gesondig het. 9 By die Here onse God is barmhartigheid en vergewing, want ons het teen Hom opgestaan 10 en na die stem van die HERE onse God nie geluister om te wandel in Sy wette wat Hy ons deur die diens van Sy knegte, die profete, voorgehou het nie. 11 Maar die hele Israel het U wet oortree en afgewyk deurdat hulle nie na U stem geluister het nie; daarom is die vloek en die eed oor ons uitgestort wat geskrywe is in die wet van Moses, die kneg van God, want ons het teen Hom gesondig. 12 En Hy het Sy woorde in vervulling laat gaan wat Hy oor ons gespreek het en oor ons rigters wat ons bestuur het, deur groot onheil oor ons te bring wat onder die ganse hemel nie gebeur het soos in Jerusalem nie; 13 soos in die wet van Moses geskrywe is—al hierdie onheil het oor ons gekom, en ons het die aangesig van die HERE onse God nie om genade gesmeek deur ons te bekeer van ons ongeregtighede en ag te gee op U waarheid nie. 14 Daarom was die HERE wakker oor die onheil, om dit oor ons te bring; want die HERE onse God is regverdig by al Sy werke wat Hy doen, maar ons het nie na Sy stem geluister nie. 15 Nou dan, o Here onse God wat U volk uit Egipteland met 'n sterke hand uitgelei en vir U 'n Naam gemaak het soos dit vandag is, ons het gesondig, ons was goddeloos. 16 o Here, laat tog volgens al U geregtigheid U toorn en U grimmigheid van U stad Jerusalem, U heilige berg, afgewend word, want om ons sondes en die ongeregtighede van ons vaders ontwil is Jerusalem en U volk 'n voorwerp van versmading vir almal rondom ons. 17 Hoor dan nou, onse God, na die gebed van U kneg en na sy smekinge, en laat ter wille van die Here U aangesig skyn oor U heiligdom wat woes lê. 18 Neig U oor, my God, en hoor, open U oë en aanskou ons verwoeste plekke en die stad waar U Naam oor uitgeroep is; want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor U aangesig neer nie, maar op grond van U grote barmhartigheid. 19 Here, hoor! Here, vergeef! Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U ontwil, my God; want U Naam is oor U stad en U volk uitgeroep.
   
Daniël 12:2
En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.
   
Hosea 14:5
Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want My toorn is van hulle afgewend.
   
Joël 2:12-13
Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil;
   
Miga 5:2
En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat 'n Heerser in Israel sal wees; en Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.
   
Sagaría 1:3-4
So moet jy dan aan hulle sê: So spreek die HERE van die leërskare: Keer terug na My, spreek die HERE van die leërskare, en Ek sal na julle terugkeer, sê die HERE van die leërskare.
   
 

 

Tuis
Ou Testament
Nuwe Testament

Op

 

TuisOu TestamentNuwe Testament

 

'n Christen ...

Kaleidoskoop


ARK Webontwerp sedert 1998

ARK Web Design since 1998


Swallow Software

ARK Web Design © 2007 - 2023
ARK Webontwerp © 2007 - 2023

Bybel vir aflaai: Engel in pers en blou wat bidBybelteks
 Bible Text

arkpark.net