Bekering: Joh 1:36  en toe hy Jesus sien wandel, sê hy: Dáár is die Lam van God!

As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.
1 Johannes 1:9

 

Tuis

 

Opgedateer: 3 Februarie 2023

    

 

 

 

 

Meer oor Bekering

Werp al julle oortredinge waardeur julle oortree het,
van julle af weg en maak vir julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees;
want waarom wil julle sterwe, o huis van Israel?
Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie,
 spreek die Here HERE. Bekeer julle dan en lewe.
Eségiël 18:31-32



Meer oor Bekering

Belangrike Bybelverse om vooraf te lees

Eségiël 36:26 (Ontvangs van 'n nuwe hart en gees)
Handelinge 9:1–19 (Saulus se bekering)
Handelinge 16:25–34 (Bekering van 'n bewaarder)
Psalm 40:4–5 (God gee 'n nuwe lied)

Leef jy voluit in jou sonde met jou mond vol bitterheid, jou voete haastig om bloed te vergiet? Kan jy nie wag om kwaad te doen of ander te beskinder of leed aan te doen nie? Daar is geen vrees en respek vir die Here in jou nie? Tog smag jou hart en wese na iets. Soek jy diep binne in jou hart der harte na vrede, salige vrede?

Ongelowige sondaars, ken nie werklike vrede of vryheid nie. Daar is geen vrede vir die goddeloses nie. Hoekom nie? Sonder Christus sal jy dit nooit vind nie, omdat werklike vrede en vryheid slegs te vinde is by die Skepper van die mens. Ons moet vrede met God maak voor ons werklike vrede en geestelike rus kan ervaar. Dus, alleen vrede met God, bring die vrede van God.

Vir watter persoon is die geskenk van vergifnis beskikbaar?

God se plan van redding is vir alle nasies soos dit aangedui word in Romeine 10.

Romeine 10:12
Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep.

Wat Romeine 10:12 hierbo dus deeglik uitlig, is dat óf ons nou gelowiges óf ongelowiges is, God is ons almal se God.

Johannes 3:16 sê ook "want so lief het God die wêreld gehad". Dus hierdie genadegawe van redding en vergifnis is vir alle mense wat bereid is om die geskenk in geloof te aanvaar. Jesus is die Redder, ons Messias en klop aan die deur van ongelowiges se harte. Ons almal het 'n mate van geloof gekry en as ons "JA" sê vir Hom, word ons Sy kind.

Moenie uitstel nie. Vandag is die dag vir jou om in te sien dat God jou nie wil laat verlore gaan nie. Moenie Sy hand aanhou wegslaan en jou rug nog weer op Hom draai nie.

Kyk na Jesaja 48:22. Kyk net wat die Redder moes verduur vir jou en my sondes! Kyk ook na Jesaja 53:5. Wil jy dit en nog meer van die hand wys? Dink daaroor, die Groot Meester was bereid om Sy lewe vir jou te gee en het so 'n gruwel dood te gemoed gegaan, om dit te bewys.

Moenie jou hart en verstand meer wegdraai van jou Skepper af nie. Kom maak die deur oop en nooi Jesus in. Ons almal het gesondig, maar ons Herder is geduldig en liefdevol.

Joël 2:12-13
Maar selfs nou nog, spreek die HERE,
bekeer julle tot My met julle hele hart,
en met vas en geween en rouklag.
En skeur julle hart en nie julle klere nie,
en bekeer julle tot die HERE julle God;
want Hy is genadig en barmhartig,
lankmoedig en groot van goedertierenheid,
en Een wat berou het oor die onheil;

--------------

 Therefore also now the Lord sayth, Turne you vnto Me with all your heart, and with fasting, and with weeping, and with mourning,
And rent your heart, and not your clothes: and turne vnto the Lord your God, for He is gratious, and mercifull, slowe to anger,
 and of great kindnes, and repenteth Him of the euill."
Joel 2:12-13 (Geneva Bible 1599)

Waarvoor wag jy dan nog voor jy uiteindelik hierdie wonderlike geskenk aanvaar?

Wat baat dit jou as jy die hele wêreld aan jou voete het, banke en banke vol geld besit en die oppermeester van baie slawe is, maar jou siel is verlore en jy is op pad na die verderf? Sien jou uiterse ellende raak, roep God aan en laat jou sonde weg was deur die genade van Sy kruisdood.

Dink jy jou geleerdheid is te hoog vir sulke praatjies! Die Bybel sê in die Psalms: "Net 'n gek sê in sy hart dat daar nie 'n God is nie." (Psalm14:1) Is jy van mening dat God sekerlik nie vir so 'n krities denkende deskundige soos jý nodig gehad het om te sterf nie?

Nee, edelagbare, burgemeester, dokter, eerwaarde, leier, professor, koning, prinses of slaaf, ALMAL is skuldig voor die Here. Ek en jy en al die res. Ja, die ganse mensdom is in die skuld by God. Die Woord sê dat ons soos kinders moet word en GLO in God se reddingsplan vir ons (Matthéüs 18:3)

En NEE, daar is geen ander weg soos so baie wêreldlinge probeer beweer nie. Daar is maar net die een en enkele Weg. Jesus is die ENIGSTE MIDDELAAR tussen God die Vader en die mens. Die Drie-Enige God is ALLERHEILIG en haat sonde en die sondaar en haat die dood, omdat dit die uiteinde van sonde is. Tog wil die liefdevolle God nie dat een enkele een van Sy kinders verlore gaan nie.

Johannes 14:6
Jesus antwoord hom: Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

God is getrou. Hy vertel nie leuens nie en hou Sy beloftes.
Númeri 23:19 dui dit soos volg aan: God is geen man dat Hy sou lieg nie; of 'n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?

Roep Jesus Christus ons Saligmaker aan om jou redding vir jou te bewerkstellig.

Bekering is wel 'n geskenk, maar die mens as wese, is gemaak met 'n vrye wil of eie keuse. God bied dus die genadegeskenk aan, maar ons moet ook die geskenk aanneem deur die deur oop te maak. Ons moet 'n vrywillige keuse in liefde maak, anders sou dit nooit liefde gewees het, as ons gedwing word nie. Jesus dwing niemand om Sy geskenk van redding aan te neem nie. Sy motiewe is altyd suiwer, liefdevol en opreg.

Werklike bekering gaan gepaard met die hartseer oor sonde en die vaste voorneme om God met die hele hart en siel en gees lief te hê en Sy gebooie in opregtheid te volg. (2 Korinthiërs 7:10). God se Woord bly belangrik vir ons daaglikse geestelike voeding.

Huiwer jy nog? Mag die Here jou vandag spesiaal aanraak en wys hoe breed, diep en wyd Sy liefde is.

 

 

Tuis

Op

 

Tuis

 

'n Christen ...

Kaleidoskoop


ARK Webontwerp sedert 1998

ARK Web Design since 1998


Swallow Software

ARK Web Design © 2007 - 2023
ARK Webontwerp © 2007 - 2023

Bybel vir aflaai: Engel in pers en blou wat bidBybelteks
 Bible Text

arkpark.net