|
|
Beroep aan medegelowiges
"Wees net baie sterk en vol moed, om
nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel
het; wyk daarvan nie regs of links af nie, sodat jy met goeie gevolg kan
handel, oral waar jy mag gaan"
Josua 1:7
Medegelowiges,
Lyk die gesprekke oor geloof, bekering en volle oorgawe
aan ons Hemelse Vader, God en Here vir u onnodig? Lyk dit na 'n futiele
saak?
Die Here roep ons almal om geloofstryders te wees wat
met vertroue in ons Messias, Jesus Christus, die stryd sal stry en siele
tot by Sy voete te bring.
God se kinders is gesalf en groei in heiligheid as ons
Hom daagliks in geloof aanbid, maar die oes is groot en die werkers min.
Duisende godsdienstiges, maar totaal verlore siele, soek naarstigtelik na die Waarheid.
Hulle brand wierook, besoek allerlei tempels, was hulself in besoedelde
riviere, brand merke in hul vel, gooi kaartjies en stokkies in die lug,
draai en draai kraletjies in die hande, prewel oor en oor
godsdienstige rympies en woordjies en roep die name van duisende afgode, wat van
klip, hout of yster gemaak is, aan.
Ander glo weer hul goedere of sekuriteite en mag is alles
en dat dit vir hulle genoeg is. Sommiges lag opgesmuk oor die
werklikheid van God, Sy gebod en die werklikheid van die hel. Ons weet dat ons die enigste Waarheid, enigste Weg en
enigste Redder ken, naamlik Jesus Chistus die enige gebore Seun van God.
Ons weet dat daar 'n groot geveg vir siele is en dat
Jesus se kruisdood nie verniet was nie. God het die mens innig lief. Die Heilige Gees berei reeds
harte voor en trek siele nader na Hom en die Vader. Waarvoor wag ons?
Talle kosbare siele gaan verlore, omdat ons, wat so bevoorreg is om reeds
Jesus te ken, lui geword het en lamsakkig gemaklik geraak het. Klein
groepies gelowiges het in die geskiedenis hul staal gewys. Wie sou kon
meet wat die invloed van gelowiges se gebede het? Getuig talle gelowiges
soos sendelinge en hulpwerkers nie van groot ingrype as hulle gebid het
nie?
Laat ons in
gehoorsaamheid die allergrootste geskenk wat ons van die Here ontvang
het, die GOEIE NUUS, deel met hulle wat nog nie die Waarheid leer ken
het nie. Hulle wat so soek en soek en soek. Laat ons nou weer met nuwe
ywer by God gaan pleit vir die bekering van siele en dan opstaan en die
Christelike lewe LEEF. Voluit leef, want ons is KONINGSKINDERS.
Moenie die kanse, die wonderlike spesiale geleenthede wat die Heilige Gees oor u pad bring,
miskyk of ignoreer nie. U kan 'n kardinale rol speel om 'n persoon na
Jesus te bring. Hoe sal u weet wat dit nie alleen vir u en die afvallige
kan beteken nie, maar wat die Here beplan met so 'n vriend se bekering, lewe
en dalk nageslag? Ewige lewens is in gedrang,
al is ons soms so dwaas om dit te
wil ignoreer of te vergeet.
Min mense sal die roepstem van 'n drenkeling of 'n persoon
in uiterse pyn en nood ignoreer. Waarom dan nie aandag aan hierdie
NOODSAAKLIKE saak gee nie!? As mens weet iemand is in gevaar, waarsku jy
tog as dit enigsins vir jou moontlik is. En jy help met alles tot jou
beskikking. Die saak van verlore siele is beslis nie anders nie.
Die storms van afvalligheid, immoraliteit, godslastering
en haat verwoes daaglik lewens en gesinne. Gebed en geloof in ons
Heiland en Saligmaker, bly ons
enigste skans.
Laat ons die wonderlike liefde, genade en verlossing wat
ons s'n is, nou met groter erns deel met hulle wat op pad is na 'n diep,
donker afgrond en ewige dood.
|
Hemelse Vader, dis met groot erns in die hart wat ek
vandag by U kom pleit vir die versterking van medegelowiges. Gee dat
ons sal groei in U en sal leer wat U in U Woord vir ons wil uitwys. Van
die siele-nood en -pyn en -hartseer. Gee dat ons sal werk en woon onder
U heilige wil. Gee dat ons harte versterk sal word. Ook dat ons die
geleenthede wat U vir ons stuur, om andere van U wonderlike verlossingsgenade te vertel, sal benut. Gee dat ons sal oorwin as ons verwarde en
stukkende en verdwaalde siele na u troon wil bring.
Laat U Heilige Gees
ons gehoorsaam vind.
In Jesus Christus se naam. Amen. |


|
|