Bekering


Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word
en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom. (Handelinge
3:19)
Jy het al soveel dinge gedoen om beter te voel. Soveel kitsresepte
gevolg, raad ingewin, plekke gaan besoek en roetines gevolg of planne
beraam. Jy het aangesluit by 'n sportklub of 'n aërobiese oefenspan. Jy
het getrou en dit berou. Jy het talle goed gaan koop en koop en koop om
te probeer sin bring in jou lewe. Jy het gaan drink en dobbel en
rondfuif vir die vale. Jy het gevlug en gaan wegkruip en jy het gaan
ooreet en fliek, TV kyk of die draak met minderbevoorregtes gesteek.
Niks het gewerk nie. Die vrees, depressie, teleurstelling en gevoel van
mislukking en tekorte bly maar net knaag en knaag aan jou binneste. Miskien is jy
al vir baie lank tam of lamgelê met sorge, hartseer of siekte.
Dalk glo jy dat die weg wat jy nou loop te heerlik vol uitspattige sonde
is en bekering nie vir jou is nie.
Spreuke 16:25 sê die volgende: "Daar
is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is die weë van die
dood." Hebreërs 10:31 sê: "Vreeslik is dit om te val in die hande van die
lewende God." Daarmee saam sê
Markus 8 vers 36 en 37 die volgende: "Want wat sal dit
'n mens baat
as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens
gee as losprys vir sy siel?"
In 1 Johannes 1 verse 8, 9 en 10 lees ons ook die volgende:
"As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid
is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om
ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. As
ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en
is Sy Woord nie in ons nie."

Die mens het sy Redder, Jesus Christus, nodig
Dis dus duidelik dat die mens 'n afvallige sondaar is, wat redding nodig
het. Genadiglik het God self vir ons voorsiening gemaak om met Hom vrede
te bewerkstellig, deur die kruisdood van Sy Seun Jesus Christus. Ons lees
in Romeine 5:6 die volgende: "Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir
die goddelose gesterwe." En
vers 8 sê: "... maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons
gesterf het toe ons nog sondaars was."
"Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge
het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword." (2 Korinthiërs 5:17)
Liewe besoeker, die kortste pad na 'n splinternuwe begin met ware
betekenis, is om bloot vandag jou knieë in aanbidding voor ons Here Jesus
Christus te buig. Om Hom aan te neem as jou persoonlike Saligmaker. Dis nie 'n ingewikkelde saak of moeilike ding nie. 'n
Gebed vir redding is 'n pleit vir genade, in plaas van die oordeel wat
ons as sondaars verdien. God het 'n spesifieke doel met jou lewe en die Heilige
Gees wil jou leer, vertroos en ophelp. Jesus verlang intens na 'n diep,
innige en persoonlike verhouding met jou. Hy het Sy lewe vir jou
onthalwe gegee. Hy klop al baie lank aan die
deur van jou hart en wag vir jou eerlike en opregte "JA"-antwoord. Hy sal nooit inbreek of jou
dwing om Hom Koning van jou hart te maak nie, maar Hy kom pleit by jou. Maak jou hart vandag oop en nooi Hom om
JOU Koning te wees. Dít sal 'n besluit vir tyd en ewigheid wees wat jou
lewe radikaal sal impakteer.
"As jy met jou mond die Here Jesus bely en in jou
hart berou het oor jou sondes en vas glo
dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die
hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. Die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie."
(Romeine 10:9 tot 11)
Neem nou, vandag die stap van geloof en ontvang God se gratis geskenk
van verlossing deur bekering en geloof in Jesus Christus as Verlosser. Begin dan ook
om jou
nuwe lewe in geloof in en gehoorsaamheid aan Christus te demonstreer deur as Sy dissipel te
leef in dankbare gehoorsaamheid aan Sy Woord, Sy liefdesbrief aan ons,
naamlik die Bybel.

Hoe sal ek weet wat om te bid?
Weet jy nie hoe om te bid nie? Is jou gedagtes 'n warboel? Die Here
sien, verstaan en beoordeel genadiglik die hart. As jy berou het oor jou
sondes, as jy glo in Jesus
Christus en dat Hy versoening deur Sy kruisdood vir jou verwerf het,
bid, glo en die Here sal jou ophelp en op die pad wat Hy vir jou
voorberei het, bring.
"Ek sal die beker van verlossinge opneem en die Naam van die HERE
aanroep." Psalm 116:13
'n Paar voorbeelde van gebede word voorsien, maar
jy kan 'n eie gebed ook bid.
Die innige opregtheid van die hart en bekering van die wil, is belangriker
as bepaalde woorde.
Die geloof in Jesus Christus en Sy kruisdood en opstanding red.

|