Geestelike beginsels

God het die mens lief
Die Bybel sê in
Johannes 3:16 "Want so lief het God
die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat
in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê."
Ons ewige bestaan (ewige lewe) is dus van soveel belang, dat God die Vader Sy Seun as
offer gegee het. Maar Jesus het ook gekom dat ons 'n volle lewe mag
leef. Nie net 'n bestaan nie, maar 'n lewe met betekenis en waarde.
Jesus sê in
Johannes 10 vers 10: "... Ek het gekom, dat hulle lewe en
oorvloed kan hê."

Die mens is sondig, verlore en het 'n Redder nodig
Ons sondes verwyder ons ver van God en verhinder ons
om God se liefde en Sy wil vir ons lewens voluit te weet en te doen.
Die Woord sê in
Romeine 3:23 "want almal het gesondig
en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God."
Die mens se selfsugtige koppigheid het dus gelei tot die
geweldige sondeval en sy volgehoue ongehoorsaamheid en grootsheidswaan lei tot die
afbreking van sy verhouding met God. Dit lei uiteindelik tot rebellie teen
die Almagtige Heilige God. So 'n rebellie staan
bekend as sonde. So 'n situasie (opstand teen die Grote God) verdien net die dood. Daar is niks wat die mens vanuit sy eie kan doen
om weer die verhouding tussen hom en God te herstel nie. Nie eie sg.
"goeie dade" nie, nie 'n "goeie lewe" nie, nie filosofieë nie en nie
godsdienste nie. Dis slegs die aanneme van Jesus Christus as jou
persoonlike Redder en Saligmaker, wat daardie skeiding kan oorbrug, wat
weer die verhouding kan herstel.

Jesus Christus is die Weg
Jesus Christus is die enigste Weg wat deur God die
Vader voorsien is. Deur Jesus as jou Verlosser aan te neem, word jou
sondes afgewas en die skeiding herstel.
Híér is drie sake van belang:
- Jesus het ons plek geneem in die straf
- Jesus het opgestaan uit die dood
- Jesus Christus is die enigste Weg
Jesus het ons plek geneem
In Romeine 5:8 kom ons baie duidelik te wete dat
Christus vir ons sondes en in ons plek gesterf het.
Jesus het opgestaan uit die dood
Jesus het op die derde dag opgestaan uit die dode en
het aan talle persone verskyn. Daar was baie ooggetuies wat Hom na Sy
opstanding gesien het. (Lees oa. in die nuwe Testament by
1 Korinthiërs
15:3 tot 6) Dit is dus duidelik dat Hy ons sondelas kom oorneem en
betaal het, maar meer nog, die
dood oorwin het!
Jesus Christus is die enigste Weg
Jesus Christus is die enigste weg. Talle groepe voel
hewiglik geaffronteer deur hierdie feit, maar die Bybel is duidelik
daaroor. In Johannes 14 vers 6 staan daar: "Jesus antwoord hom: Ek is
die WEG en die WAARHEID en die LEWE; niemand kom na die Vader behalwe
deur My nie."

Ons moet Jesus as ons persoonlike Saligmaker aanneem
Die aanneme van Jesus as Saligmaker is individueel.
Elke mens moet dus berou kry, bekeer en Jesus as persoonlike Saligmaker
aanneem. Jesus word deur GELOOF aangeneem, nie deur werke, afstammeling,
besittings, kennis of deur enige ander ding nie.
"Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en
dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke
nie, sodat niemand mag roem nie." (Efésiërs 2:8 en 9)
As ons berou het, bekeer en Jesus aanneem, word ons
skoongewas en weer gebore. Lees gerus die gedeelte van die gesprek
tussen Jesus en Nikodémus wat handel oor wedergeboorte. (Johannes 3 verse 1 tot 8)
Ons moet Jesus innooi in ons hart en lewe. Dit is 'n
geloofsdaad. Deur net die kennis te hê of 'n emosionele moment te hê is
beslis nie wat bedoel word nie. Die geloofstap is 'n wegdraai vanaf die
sonde en die
eie wil af, 'n verwerping van sondige gedagtes, woorde en dade en 'n vaste vertroue dat Christus ons kom afwas van al ons
sondes. Dat Hy die Koning van ons hart word en beheer kom oorneem. Dat
ons jammer is en innig berou het oor die oortredinge van die verlede
en vas glo dat Jesus nou in en deur ons sal kom werk tot eer en
verheerliking van die Vader se naam. Dat die Heilige Gees in en deur ons
kom werk, sodat ons kan groei en God en Jesus al hoe beter kan ken en
liefhê.
Plaas Jesus Christus vandag in beheer van die troon
van jou hart en lewe. Maak Hom die Stuurman van jou lewenspad en kyk net
watter verskil dit vir jou maak.
|